On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

‘Onmenslik’ sonder water in Olifantshoek se versengende hitte

───   MORNÉ VAN ROOYEN 17:05 Thu, 12 Dec 2024

‘Onmenslik’ sonder water in Olifantshoek se versengende hitte | News Article
DA-aktivis Dean Espach (links) help drinkwater uitdeel aan inwoners van Olifantshoek. Foto verskaf

Inwoners van Olifantshoek in die Kalahari vestig nou hul hoop op die Menseregtekommissie (MRK), nadat hulle maande lank nie weet wanneer hulle kraanwater gaan hê of nie.

“Wanneer ons water het, maak ons maar die tenke vol, en jy was wasgoed en jy doen alles wat jy moet doen,” vertel inwoner Petro Oosthuizen oor die gedurige onsekerheid. “Jy skrop die huis en jy skrop jouself. 

“So as jy môreoggend opstaan en daar is nie water nie, dan weet jy darem die meeste van die goed is skoon en gewas, en dit is nou net om jouself skoon te kry en jou daaglikse takies te doen.”

Die waterprobleme kom eintlik al geruime tyd aan, vertel Henriëtte du Plessis, DA-raadslid van Gamagara. “Kom ons sê amper van laas jaar af, maar hierdie jaar, omtrent hier van einde September af tot nou, is die grootste gedeeltes van Olifantshoek, eintlik almal, die meeste van die tyd totaal en al sonder water.”

DA-aktivis Dean Espach help drinkwater uitdeel aan inwoners van Olifantsrivier. Foto verskaf

Die laaste strooi wat die plaaslike DA oortuig het om Gamagara by die MRK verkla, was die munisipaliteit se versuim om Woensdag (11/12) sy waterherstelstrategie aan die raad voor te lê. “Ons het verwag om ’n volledige plan te sien, maar die munisipaliteit het dit nie ernstig opgeneem nie,” sê die party in ’n verklaring.

Olifantshoek se water het opgedroog nadat agt van die dorp se 14 boorgate gevandaliseer en geplunder is – en steeds nie herstel is nie. Die afgelope naweek is die boorgate getoets, maar van ’n plan om die dorp se voortslepende en aftakelende watertekorte op te los, is steeds geen sprake nie.

Intussen moet waterwaens dié kosbare hulpbron aanry teen meer as R1,1 miljoen per maand, sê Du Plessis, maar omdat dit peperduur is, boer die munisipaliteit net ál verder agteruit. “Die totale opgehoopte uitstaande skuld vir watertenkwaens staan nou op meer as R3,278 miljoen.”

DA-rdl. Henriëtte du Plessis help deel twee maande gelede drinkwater uit op Olifantshoek wat haar party geskenk het. Foto verskaf

Inwoners moet met kanne na die naaste tenk loop en water tap. “Daai water is ook nie geskik vir menslike gebruik nie,” vertel Du Plessis. “Hulle moet maar wasgoed was en dit gebruik vir sanitasiegeriewe.” 

Oosthuizen sê sy is dankbaar dis net sy en haar man, Jan, en hulle twee honde, Boela en Tessa, want dit sou “’n gemors” gewees het om vir meer mense water bymekaar te kry. “In hierdie hitte is dit iets verskrikliks om sonder water wees en die diere het nie water nie, ons het nie water nie … So, ja, dit is maar ’n moeilike situasie.”

Du Plessis voeg by die waternood tas inwoners se menswaardigheid aan. “Ons voel net die mense, veral die ouer mense, kan tog nie met kanne loop en water gaan tap by ’n kraan nie. Dit is totaal en al onmenslik.” 

Du Plessis vermoed lede van die gemeenskap het die waterinfrastruktuur gevandaliseer. Foto verskaf

Die probleem het begin toe die waterraad Vaal-Sentraal nie genoeg water kon pomp nie. Die boorgate help nie, want net ses van die 14 werk en die grootste een het nie krag nie, verduidelik sy. “Hulle is geplunder deur onder andere seker maar die gemeenskap. Daar is net geen wil om hulle reg te kry nie.” 

Gevra wat hulle met die klagte by die MRK wil vermag, sê Du Plessis: “Ons dring daarop aan dat die munisipaliteit dadelik werk maak van daardie boorgate, want alhoewel dit seker nie genoeg is om die reservoir vol te maak nie, kan hulle darem die water in die lyn intap, en dan beteken dit almal sal darem ’n bietjie water hê in plaas van zero.” 

Dit bekommer Du Plessis en haar kollegas in die DA dat Gamagara, met sy setel op die myndorp Kathu, aansoek gedoen het om ’n nuwe uitbreiding te ontwikkel, waar hulle ’n nuwe wateraanleg wil bou. “Daar bly nog nie mense in Gamagara in daardie area nie. So ons vra hulle moet eerder fokus op areas waar daar reeds mense woon waar daar nie water is nie.” 

Inwoners moet lang engte in die versengende Kalahari-hitte stap om water te haal. Foto verskaf

Intussen hou Oosthuizen en ander inwoners van Olifantshoek moed. “Ons moet maar net vir mekaar bid en duim vashou. Jy weet,” sê sy aan OFM Nuus, “jy maak huis skoon, jy sweet en op een of ander manier moet jy weer skoon kom.

“Gelukkig het ons bure ’n boorgat en hulle probeer ons maar help waar hulle kan met water sodat ’n mens darem jouself net kan skoonmaak … kan was of kan bad, laat jy darem net die ergste sweet kan afwas.”

• Nadat OFM Nuus Donderdag die onderhoude vir hierdie berig gevoer het, het inwoners die aand begin kraanwater kry. Vrydagoggend het dit sterk geloop. Ons hou duim vas dit hou.

OFM Nuus/Morné van Rooyen

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.