Central SA
Kragonderbreking lei tot nóg waternood vir Bloemfonteiners─── ZENANDE MPAME 13:04 Wed, 11 Dec 2024
Asof Bloemfonteiners nie reeds genoeg ly weens Mangaung-metro se onvermoë om water te voorsien nie, is die probleem Woensdag (11/12) vererger deur ’n kragonderbreking by die Maselspoort-aanleg.
Die munisipale kragvoorsiener, Centlec, kan nog nie sê hoe lank die kragonderbreking sal duur nie. Dit het waterbehandeling by die watersuiweringsaanleg, wat weens herstelwerk reeds ver onder sy vermoë funksioneer, verder gekniehalter.
Sowat 30% van Bloemfontein se watervoorraad kom van Maselspoort, wat die res van die stad se watervoorsiening verder onder druk plaas.
“Vroeg vanjaar het ons ons bekommernis uitgespreek oor die stadige reaksie van Mangaung se bestuur en Centlec om geld vir dringende instandhouding aan te wend,” sê DA-rdl. Dirk Kotze gesê.
“Die afgelope drie jaar het die metro verskeie hittegolwe beleef. Die gebrek aan beplanning en versuim om die kraginfrastruktuur in stand te hou, dompel Bloemfonteiners nou in ’n krisis.”
Pas twee weke gelede het Vaal-Sentraal-water en die metro waterbeperkings ingestel vir herstelwerk toe die stelsel onder druk verkeer het weens opknapping aan Maselspoort se filters.
Waterwaens is na verskeie dele van die stad gestuur om inwoners te help, maar talle het gekla hulle is oor die hoof gesien.
Omdat die waterstelsel geïntegreerd is, sal hierdie nuwe onderbreking die situasie vererger vir areas wat al weke lank sukkel met onbetroubare water, waarsku die DA. “Baie inwoners, soos dié in Pellissier, het reeds gereeld sonder water gesit, en hierdie probleem maak dit nog moeiliker vir hulle.”
Die opposisie sê belangrike stappe om die probleem op te los, is reeds aan die ANC-beheerde metro voorgelê, “maar daar is niks gedoen om dit uit te voer nie. Hierdie gebrek aan aksie, saam met jare se wanbestuur en swak beplanning, maak dat ons gemeenskappe steeds aanhou sukkel.”
Die weerdienste het ’n hittegolfwaarskuwing vir Mangaung uitgereik van Maandag tot Vrydag. Die hoogste verwagte temperatuur in die metro is 39 °C. Brandgevaarwaarskuwings geld vir die Noord-Kaap, die weste en suide van Noordwes en groot dele van die Vrystaat.
Die verskil tussen sonsteek en hitte-uitputting. Foto verskaf
Wenke om in gedagtes te hou tydens ’n hittegolf:
- Bly gehidreer deur baie water te drink.
- Vermy oormatige drank en koffie aangesien dit kan lei tot dehidrasie.
- Maak seker dat diere ’n koel plek het om te ontspan en koel, skoon water het om te drink.
- Probeer uit direkte sonlig bly, maak seker dat jy sonskerm gebruik, dra ’n hoed of ’n pet en sonbril, en gebruik ’n sambreel in direkte sonlig.
- Dra koel, ligte klere.
- Beperk deelname aan buitelugaktiwiteite tussen 10:00 en 16:00.