On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse apteker bly in aanhouding ná klopjag

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:21 Fri, 29 Nov 2024

Vrystaatse apteker bly in aanhouding ná klopjag | News Article
Foto: iStock

’n Apteker van Ficksburg bly in aanhouding tot hy weer moet voorkom vir die besit van ’n magdom ammunisie, plofstof en ander militêre toerusting.

Burger Greyling (56), wat die Leribe-apteek vanaf sy huis in Ficksburg bedryf, het Woensdag (27/11) vlugtig in die plaaslike landdroshof voorgekom, maar ’n volgende hofdatum kan eers vasgestel word nadat die hof sekere besonderhede oor hom kan bevestig, sê brig. Thandi Mbambo, Valke-woordvoerder.

Greyling is Dinsdag tydens ’n gesamentlike operasie deur misdaadintelligensie, Bloemfontein se taktiesereaksie-eenheid en die honde-eenheid van Ladybrand ná ’n klopjag tuis in hegtenis geneem.

‘Dit is ’n aanduiding van hoe die polisie hul intelligensie-insameling verskerp het’

Beamptes het afgekom en beslag gelê op ’n groot hoeveelheid R1- en R5-ammunisie, skok- en rookgranate, potlood- en donderfakkels, handseinrook en ander verdagte toerusting, waarvan sommige aan die polisie en die weermag behoort, het brig. Motantsi Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder, vroeër aan OFM Nuus gesê

Die polisie bejeën die onwettige besit en gebruik van militêre toerusting en ammunisie met die grootste erns, sê lt.genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiekommissaris. “Dit is net ’n aanduiding van hoe die polisie hul intelligensie-insameling verskerp het, wat tot die deurbraak gelei het.”

Volgens Motswenyane is ’n ondersoek aan die gang om vas te stel hoe die ammunisie en plofstof in die besit van iemand gekom het wat nie gemagtig is om hierdie items te hê nie.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.