On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Upington-inwoners ontstoke weens lisensies wat nie hernu kan word

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:55 Fri, 27 Sep 2024

Upington-inwoners ontstoke weens lisensies wat nie hernu kan word | News Article
Foto: iStock

“Die poskantoor is meer ’n hindernis as ’n hulp en kan net sowel sy deure sluit. Ons word nou gedwing om Keimoes toe te ry.”

Inwoners op Upington is in rep en roer oor die onvermoë om hul motorlisensies by die plaaslike poskantoor te hernu. Vroeër vandeesweek is ’n kennisgewing geplaas wat sê dat geen motorlisensies hernu kan word nie.

‘n Gefrustreerde inwoner, wat anoniem met OFM Nuus gepraat het, sê die probleem spruit uit ’n stukkende drukker wat al maande lank buite werking is. “Die kennisgewing is eers opgesit nadat inwoners ‘n bohaai gemaak het. Mense het ure lank tougestaan, net om meegedeel te word dat hulle nie gehelp kan word nie,” sê inwoner.

Hy het verder sy frustrasie uitgespreek en gesê dat die poskantoor meer 'n hindernis as 'n hulp is en net sowel sy deure kan sluit. “Ons word nou gedwing om Keimoes toe te ry.”

Foto: iStock

OFM Nuus het na die poskantoor uitgereik vir kommentaar, maar die persoon het die oproep beëindig.

Om te verseker dat jou bestuurslisensiekaart geldig bly, is dit belangrik om dit minstens vier weke voor die vervaldatum te hernu. Indien jy dit ná die vervaldatum hernu, sal jy ’n tydelike rybewys teen ekstra koste moet kry terwyl jy wag vir jou nuwe lisensie, wat gewoonlik vier tot ses weke neem om uitgereik te word.

Stappe om te volg:

1. Besoek jou naaste Bestuurslisensie-toetssentrum (DLTC) met die volgende dokumente:

  • Jou identiteitsdokument saam met ’n afskrif, of ’n geldige Suid-Afrikaanse paspoort en jou ou bestuurslisensiekaart.
  • Vier swart-en-wit ID-foto’s (bevestig die presiese aantal foto’s wat benodig word by die DLTC).
  • Bewys van woonadres, soos ’n nutsrekening. As die rekening nie op jou naam is nie, moet die eienaar ’n beëdigde verklaring invul wat bevestig dat jy by die adres woon, met die rekening aangeheg.
  • As jy in ’n informele nedersetting woon, bring ’n gestempelde brief van jou wykraadslid wat jou adres bevestig.
  • Betaling vir die voorgeskrewe aansoekfooi.

2. Alle inwoners moet aanlyn aansoek doen vir die hernuwing by die webtuiste online.natis.gov.za. Sekere provinsies is nog nie by dié diens ingesluit nie.

3. Voltooi die volgende vorms:

  • DL1: Aansoek om die hernuwing van jou bestuurslisensiekaart.
  • NCP: Kennisgewing van adresverandering of persoonlike besonderhede.

4. Jy sal ’n oogtoets moet ondergaan by die DLTC, of jy kan resultate van ’n oogkundige van jou keuse saambring.

OFM Nuus/Charné van der Merwe

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.