On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Ná 13 jaar kry Orkney se Voetlig Bedieninge eindelik eie gebou

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:28 Thu, 26 Sep 2024

Ná 13 jaar kry Orkney se Voetlig Bedieninge eindelik eie gebou | News Article
“Ons skep ’n ruimte wat nie net ’n kerk sal wees nie, maar ’n plek van hoop, veiligheid en liefde.” Foto verskaf

“Shoprite Checkers OFM Chip 4 Charity, in vennootskap met die Tafelronde van Suider-Afrika, het meer as R300 000 ingesamel wat die bediening in staat gestel het om eindelik sy eie perseel te betrek.”

Danksy ’n suksesvolle insameling kan ’n bediening op Orkney, wat langer as ’n dekade met ’n gehuurde gebou tevrede moes wees, eindelik sy eie perseel betrek.

Shoprite Checkers OFM Chip 4 Charity, in vennootskap met die Tafelronde van Suider-Afrika, het meer as R300 000 ingesamel, wat die Voetlig Bedieninge in Orkney in staat gestel het om ’n deposito neer te sit om die gebou te koop wat in ’n permanente tuiste omskep kan word.

‘Die eerste prioriteit is om ’n ruimte vir aanbidding te skep’

Die R300 000 wat ingesamel is, is tussen Voetlig Bedieninge en Dominique Prinsloo verdeel met die doel om met onvoorsiene mediese uitgawes te help. Prinsloo is egter op 6 Augustus aan kanker oorlede.

Past. Petro Kotzé deel hulle planne vir die nuwe gebou opgewonde en vertel dit word gekoop met die bedoeling om dit in ’n kerk te omskep. “Daar is baie verbeterings wat nodig is, maar die eerste prioriteit is om ’n ruimte vir aanbidding te skep.”

Ses Wendy-huise word vir die agterplaas beplan. Foto verskaf

Kotzé vertel die binnemure gaan afgebreek word en die waterpype verwyder word sodat hulle die ruimte in ’n groot saal vir die gemeente kan omskep. “Ons weet armoedeverligting gaan verder as om net kospakkies te verskaf. Ons moet ook die Woord van die Here verkondig en mense hoop bied.”

Tog strek die bediening se visie selfs verder as ’n kerkgebou. Die Voetlig-kinderprojek bly die hart van hul werk, sê Kotze. “Dié kinderprojek is in twee afdelings verdeel wat begin by ons kleuters, ons Voetlig-engele.

‘Die ander drie Wendy-huise is noodsaaklik vir berging’

“Ons moet ses Wendy-huise in die agterplaas oprig – ’n ruimte van 450 m2. Hierdie huise sal as klaskamers vir ons kleuters en babas dien, wat elk ontwerp is om in verskillende ouderdomsgroepe se opvoedkundige behoeftes te voorsien.”

Kotzé sê dat drie Wendy-huise vir die verskillende ouderdomsgroepe gebruik sal word, om te verseker dat elke kind kan deelneem aan akademiese aktiwiteite wat vir hul ouderdomsvlak geskik is. “Die ander drie Wendy-huise is noodsaaklik vir die berging van toiletware, klere, niebederfbare kos en skryfbehoeftes.”

Daar is ook die kwessie van ablusieblokke vir sommige van die kinders. Foto verskaf

Boonop verskaf die bediening nasorg aan laer- en hoërskoolleerlinge. “Ons het ’n ruimte nodig waar hierdie kinders elke middag middagete kan eet. Ons wil ook hê dat ons gemeente ’n plek moet hê om maaltye saam te geniet. Daarvoor moet ons aan die dak werk, wat ’n aansienlike koste meebring,” vertel Kotze.

Daar is ook die kwessie van ablusieblokke vir sommige van die kinders. “Baie van die kinders wat na ons toe kom, het nie toegang tot badgeriewe of warm water by die huis nie. Ons moet ablusiegeriewe in die motorhuis aanbring sodat die kinders hier kan bad. Dis nog ’n uitgawe.”

Kotze sê hulle het die skenking tot dusver ook gebruik om die sentrum ten volle toe te rus vir dagsorg, nasorg, etes en badgeriewe. Dit kom neer op R312 500.

Kotzé het ’n wenslys met die gemeenskap gedeel. Foto verskaf

“Hierdie bedrag sluit nie die [totale] koopprys van die gebou of die koste van die herstel van die stukkende koperpype in nie, wat gesteel is toe die gebou leeggestaan het.” Dié pype se koste moet nog bereken word.

Ondanks uitdagings bly Kotzé hoopvol. Sy het ’n wenslys met die gemeenskap gedeel en nooi hulle om by te dra tot die bediening se werk.

“Ons is innig dankbaar vir die skenkings wat ons ontvang het, en ons vertrou dat die gemeenskap sal aanhou om ons te ondersteun terwyl ons ’n ruimte skep wat nie net ’n kerk sal wees nie, maar ’n plek van hoop, veiligheid en liefde.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.