On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse atleet wen nuweling van die jaar

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:03 Thu, 26 Sep 2024

Bloemfonteinse atleet wen nuweling van die jaar | News Article
Mika-Leigh het al ’n rits prestasies ingeoes. Foto verskaf

“Sy het nie net op die wêreldverhoog uitgeblink nie; sy het ook ’n oorwinning behaal op die Suid-Afrikaanse modernevyfkamp-kampioenskap.”

Met ’n rits merkwaardige prestasies, rekords en ’n internasionale titel agter haar naam is dit eintlik geen verrassing dat ’n Bloemfonteinse leerling tydens die gesogte Vrystaatse Sportpryse as Nuweling van die Jaar aangewys is nie.

Mika-Leigh Strydom (15), ’n gr. 9-leerder aan Eunice High School, was een van slegs drie finaliste wat uitgenooi is na die prysuitdeling wat Saterdag (21/9) in Bloemfontein se stadsaal gehou is.

Dié eerbewys beloon sportprestasies tussen Augustus 2023 en Mei vanjaar. Die Federasie vir Moderne Vyfkamp het haar vir haar uitstaande prestasies benoem.

In China tydens die Internasionale Wêreldkampioenskappe. Foto verskaf

Gedurende hierdie tydperk het Strydom die nasionale toneel in moderne vyfkamp oorheers en internasionaal opslae gemaak. Op 22 Augustus het sy ’n goue medalje in laserhardloop verower op die wêreldkampioenskap in Bath in die Verenigde Koninkryk. 

Nie net het sy op die wêreldverhoog geskitter nie; sy het ook ’n oorwinning behaal in die Suid-Afrikaanse modernevyfkamp-kampioenskap, wat items soos laserhardloop (’n kombinasie van skiet en hardloop), swem, hekkies en skerm insluit. Sy is al Suid-Afrikaanse atleet wat ’n individuele goue medalje op die kampioenskap verower het, waaraan 68 atlete van dwarsoor die wêreld deelgeneem het, vertel sy.

Veelsydige sportster

Haar prestasties eindig nie by vyfkamp nie. Mika-Leigh is die Vrystaatse landloopkampioen en tel onder die topdrie in die provinsie in 800 m sowel 1500 m. Daarbenewens is sy die Vrystaatse driekamptitelhouer, ’n sport wat ook hardloop, skiet en swem kombineer.

Mika-Leigh vertel dat haar liefde vir sport reeds op laerskool begin het toe sy aan hokkie, netbal en swem deelgeneem het, hoewel sy aanvanklik nie in hardloopbyeenkomste uitgeblink het nie.

Mika-Leigh en haar ouers, Hende-Mari en Marius. Foto verskaf

“My deurbraak het in gr. 5 gekom toe ek afrigting van die voormalige Olimpiese atleet Reinhardt van Rensburg begin ontvang het, wat my gehelp het om my tegniek in hardloop te slyp.”

Al het Reinhardt later na Pretoria verhuis, het Mika-Leigh ondanks die uitdagings van die Covid-19-pandemie haar fokus behou. Sy vertel in dié tyd het sy tuis saam met haar ma, Hende-Mari Strydom, geoefen om te verseker sy bly in topkondisie.

Nuwe afrigter

Mika-leigh vertel sy het die afgelope jare saam met ’n nuwe atletiekafrigter, Derek van Rensburg, begin oefen wat die pa is van haar voormalige mentor. Sy het ook afrigting ontvang by die Egiptenaar David Abdelmalak, wat gehelp het om haar deur haar eerste wêreldkampioenskap in 2021 te lei, toe sy ’n silwermedalje in laserhardloop verower het.

“In 2022 het ek aan die wêreldkampioenskap in Portugal deelgeneem en die podium net-net misgeloop met ’n vierde plek,” vertel sy. Dit het haar nie ondergekry nie; die volgende jaar het sy haar eerste wêreldtitel met ’n goue medalje in laserhardloop verwerf. Onlangs het sy silwer in die o.17-afdeling van die laserhardloop-wêreldkampioenskap in China verower.

Mika-Leigh in aksie. Foto verskaf

Gedurende haar eerste twee jaar van hoërskool het Mika-Leigh voortgegaan om te presteer in swem en aan byeenkomste soos die Midmar-myl deelgeneem. Sy het egter vanjaar begin om haar op ’n enkele sportsoort toe te spits om te verseker sy hou aan ontwikkel as ’n elite-atleet.

Ten spyte van haar propvol program is sy dankbaar vir die ondersteuning wat sy van die skool ontvang, veral wanneer sy gedurende skooltyd aan kompetisies deelneem.

Groot toekomsdrome

As ouers kan Marius en Hende-Mari skaars trotser wees en vertel dat hulle hul enigste kind aangemoedig het om enige sport te beoefen wat sy geniet.

Mika-Leigh het groot drome vir die toekoms. Sy streef nie net daarna om ’n beroepsatleet te word nie; sy hoop ook om eendag in die regte te praktiseer. 

“Ek het ’n besonderse passie om met kinders met spesiale behoeftes te werk en sal graag my vaardighede wil gebruik om hulle deur sportafrigting te ondersteun.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mc/cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.