On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Drie pasiënte sterf glo in Kimberley-hospitaal ‘weens swak infrastruktuur’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:47 Sat, 31 Aug 2024

Drie pasiënte sterf glo in Kimberley-hospitaal ‘weens swak infrastruktuur’ | News Article
Die Noord-Kaapse LUR vir Gesondheid, Maruping Lekwene, en senior bestuur het kortliks vandeesweek met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, onder leiding van dr. Henk Boshoff, kommissaris, by die departementele kantore in Kimberley vergader. Foto: Facebook

“ ’n Besoek in Mei aan die hospitaal het aan die lig gebring dat die pasiënte gedwing is om in koue water te bad en dat die toilette stukkend is.”

Drie pasiënte het onlangs in Kimberley se psigiatriese hospitaal gesterf weens onvoldoende infrastruktuur.

Die pasiënte is dood tydens strawwe wintertoestande in die hospitaal toe hulle nie genoeg komberse gehad het nie en in lokale met gebreekte ruite gelê het, wat gelei het tot longontstekking, sê die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK).

Volgens die kommissie het swak infrastruktuur, insluitend onvoldoende elektrisiteitsvoorsiening, die hospitaal koud en donker gelaat. “ ’n Besoek in Mei aan die hospitaal het aan die lig gebring dat die pasiënte gedwing is om in koue water te bad en dat die toilette stukkend is.”

In Junie het Sharifa Ferris van die Patriotic Alliance die hospitaal besoek en gesê dat die pasiënte met net ’n dun kombers of ’n laken slaap sonder enige verhitting.

OFM Nuus het vroeër berig dat pasiënte emmers as toilette gebruik weens die gebrek aan behoorlike fasiliteite. In daardie stadium het die hospitaal ook kragonderbrekings ondervind, met ontlasting op die vloere as gevolg van wanfunksionele toilette en badkamers.


Volgens Ferris is dit ’n situasie wat die afgelope agt maande voortduur en maande gelede veronderstel was om aangespreek te word.

Drie van die hospitaal se vyf psigiaters het ook intussen bedank en hul poste is nog nie gevul nie.

’n Vergadering van die MRK en die hersieningsraad op geestesgesondheid is belê en verslae hieroor is aangevra .“Hierdie verslae dui aan dat die sterftes waarskynlik verband hou met die hospitaal se verswakkende infrastruktuur, insluitend ’n gebrek aan elektrisiteit as gevolg van kabeldiefstal sedert 2023,” sê die kommissie.


Die MRK het op sy moniteringsbesoek op 21 Mei ook waargeneem dat die hospitaal, waarvan bouwerk teen ’n astronomiese R2,1 miljard sowat 15 jaar geduur het, onder kapasiteit, teen 53%, werk.

Slegs 153 van die 287 beddens is in gebruik. Dit word toegeskryf aan infrastruktuur-uitdagings en mense- en finansiële hulpbronbeperkings. Ten spyte van die hospitaal se gebruik van ’n kragopwekker, word dit tussen 13:00 en 17:00 afgeskakel om oorbenutting te voorkom.

Die ernstige infrastruktuurdefekte maak dit onmoontlik om sommige dele van die hospitaal te benut en die toestand van die hospitaal is geleidelik aan die agteruitgaan.

Die hospitaal het ook gate in die plafonne, en die wanfunksionele kringtelevisie- en biometriese stelsels hou aansienlike veiligheidsrisiko's in vir beide personeel en pasiënte.

Die kommissie het gevra vir ’n dringende vergadering met die hospitaal se uitvoerende bestuur en die provinsiale LUR vir gesondheid om kort-, medium- en langtermynoplossings te ontwikkel om hierdie haglike toestande aan te spreek, wat die belangrikheid van die handhawing van die pasiënte se waardigheid beklemtoon.

Op besoek deur dr. Isak Fritz, Noord-Kaapse DA-wetgewerlid, in Maart vanjaar is opgemerk dat byna vyf jaar ná die hospitaal geopen is, die hospitaal steeds in wanorde is en aansienlike risiko’s vir pasiënte en personeel inhou.

Fritz het ook vasgestel dat die hospitaal sedert Oktober sonder warm water is, met personeel wat hulle ketels kook om pasiënte van warm water te voorsien om te was.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.