Central SA
Man in Bloemfontein aangekeer vir moord op ds. Liezel de Jager─── KEKELETSO MOSEBETSI 11:37 Mon, 27 Nov 2023
“Die nasionale ondersoekeenheid vir onopgeloste sake het die saak op 6 November oorgeneem.”
‘n 45-jarige man is Vrydag (24/11) in die vroeë oggendure in Bloemfontein in hegtenis geneem vir die moord op ds. Liezel de Jager van Amanzimtoti. Hy is ’n naasbestaande van haar. Haar man het haar op 13 Oktober 2021 nadat sy gaan draf het in die oprit van hul pastoriehuis met wurgmerke gevind.
De Jager se man was kort ná haar dood dae lank vermis en is later in ’n ernstige toestand in ’n suikerrietplantasie gevind. Hy is per helikopter na die hospitaal vervoer.
Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die nasionale ondersoekeenheid vir onopgeloste sake het die saak op 6 November oorgeneem. Hulle het daarin geslaag om die verdagte binne twee weke met die saak te verbind en op te spoor. Hy sal vandag in die landdroshof in Amanzimtoti op aanklag van moord verskyn.
’n Dringende aansoek is in 2021 by die Hooggeregshof in Bloemfontein ingedien oor die moeilike omstandighede van haar huwelik. Die hof het egter in haar man se guns beslis.
OFM Nuus