On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp-moord: Beskuldigde na bewering terug na Somalië

───   09:12 Sun, 01 Oct 2023

Klerksdorp-moord: Beskuldigde na bewering terug na Somalië | News Article
Dodelike liefdesdriehoek? Hilton Pretorius en Natasha Fischer. Foto: Facebook

“Hoe kon hulle nie weet waar hul enigste verdagte is nie? Ons is baie ontevrede met die polisie (NVG) aangesien hulle nie sy borgtog teengestaan het nie.”

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ’n dodelike hou vir Hilton Pretorius toegedien het in ’n Klerksdorp-parkeerterrein, Wernich Botha, het na bewering Suid-Afrika verlaat.

Wernich Botha is van moord aangekla nadat een van sy slagoffers in Klerksdorp, Hilton Pretorius, op 20 September in die hospitaal oorlede is. Foto: Facebook

In ’n ekslusiewe onderhoud met Iavan Pijoos en Jeff Wicks, berig News24 die familie van Pretorius is glo woedend nadat die moordbeskuldigde, Botha, na bewering na Somalië teruggekeer het – enkele dae ná Pretorius se dood.

Pretorius is op 20 September in die Klerksdorp/Tshepong-hospitaal oorlede nadat hy ernstige breinbeserings opgedoen het tydens die aanranding, wat op 2 September in die parkeerterrein van die Doringkruin Spar-winkelsentrum afgespeel het.

Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, het die 32-jarige pa van twee se dood bevestig en gesê die aanklag teen Botha, wat aanvanklik op 3 September in hegtenis geneem is vir poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, nou na moord verander is. Botha het voor die dood van Pretorius op 11 September in die Klerksdorp-landdroshof verskyn, waar hy op borgtog van R2 000 vrygelaat is.

Pretorius was in 'n medies-geïnduseerde koma en aan 'n ventilator nadat sy skedel tydens die aanranding gekraak is en hy met bloeding op die brein gelaat is.

Die tweede slagoffer, die Klerksdorpse sakeman PW Roos, is ook deur Botha bewusteloos geslaan toe hy probeer ingryp het.

Botha terug in Somalië

News24 het berig Botha (33), 'n instandhoudingsbestuurder vir 'n privaat sekuriteitsmaatskappy, het Suid-Afrika 'n paar dae ná Pretorius se dood verlaat.

Hy het glo teruggekeer om by 'n veilige kamp vir buitelandse burgers in Mogadisjoe, Somalië, te werk.

Wernich Botha word deur talle sosiale media gebruikers nou as die slagoffer van ’n “geldwolf” beskryf. Foto: Facebook

Aanklagte wat met Pretorius verband hou, sal by Botha se volgende geskeduleerde hofverskyning op 19 Oktober tot moord opgegradeer word.

Pretorius-familie: ‘Daar is vir ons gelieg’


Botha se vertrek het egter die Pretorius-gesin ontstel, wat volgens News24 beweer dat hulle “mislei” is.

“Daar is vir ons gelieg. Ons is meegedeel dat Wernich Botha sy paspoort moes inhandig. Ek het met die polisie gepraat, en hulle het vir my gesê dat hulle nie kan bevestig of hy die land verlaat het nie en dat ek die NVG (Nasionale Vervolgingsgesag) moet kontak om bevestiging te kry,” het Pretorius se broer Danie volgens die publikasie gesê.

“Hoe kon hulle nie weet waar hul enigste verdagte is nie? Ons is baie ontevrede met die polisie (NVG) aangesien hulle nie sy borgtog teengestaan het nie.”

Henry Mamothame, provinsiale NVG-woordvoerder, het aan News24 gesê daar is geen beperkings aan Botha se bewegings verbonde nie en dat die staat sy diens in Somalië bevestig het.

WAARSKUWING – nié vir sensitiewe kykers nie:

Dodelike liefdesdriehoek?

Videomateriaal van die skokvoorval – wat na bewering deur ’n liefdesdriehoek tussen Botha, sy meisie Natasha Fischer en Pretorius ontketen is – is wyd op sosiale media versprei.

In een video word 'n vrou met rooi hare, wat in verskeie mediaberigte geïdentifiseer is as Botha se vriendin Fischer, na 'n blou Toyota Land Cruiser gesien hardloop.

'n Man in swart geklee, wat intussen as Botha geïdentifiseer is, klim uit die voertuig voordat hy doelbewus na 'n ander man, Pretorius, aangestap kom.

Hy dien Pretorius 'n kragtige hou toe, waarna Pretorius op die grond val waar hy bewusteloos lê en bloei.


Pretorius word Vrydag (6/10) ter ruste gelê. Die afgelope Vrydag het die familie ’n troosdiens gehou.

OFM Nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.