Central SA
September, die goue maand vir siek kinders─── ELSABÉ DE JAGER 10:16 Wed, 06 Sep 2023
Jaarliks word ongeveer 1 000 nuwe gevalle van kinderkanker in Suid-Afrika aangemeld.
“Dit is hoe ons kinders sien by wie kanker gediagnoseer is. Hulle is goud en ten spyte van hul diagnose is hulle dapper en breek hulle nie.”
Dit is die mening van Sonet van Zyl, Vrystaat en Noord-Kaap se streeksbestuurder van die Childhood Cancer Foundation (CHOC), oor die internasionale kinderkankermaand. By CHOC staan September ook bekend as die maand “Go Gold”, want vir hulle is elke jong pasiënt ’n stukkie onbreekbare goud.
Jaarliks word ongeveer 1 000 nuwe gevalle van kinderkanker in Suid-Afrika aangemeld. Die oorlewingsyfer is tussen 50% en 60%. In Afrika oorleef slegs 20% van die siek kinders. In die afgelope jaar is 38 sterftes in die Vrystaat en Noord-Kaap aangemeld. Dié kinders se ouderdom wissel van drie maande tot 17 jaar.
Die CHOC Huis in Bloemfontein. Foto verskaf
Van Zyl sê die simptome van kinderkanker word dikwels verwar met dié van gewone kindersiektes. Dit is van groot belang om bewusmaking van die waarskuwingstekens te bevorder. Die oorlewingsyfer van kinders met kanker kan noemenswaardig verhoog indien hulle vroegtydig gediagnoseer word en betyds na ’n pediatriese onkologie-eenheid verwys word.
Die SILUAN-waarskuwingstekens wat in 2000 internasionaal deur die Children Cancer Study Group aanvaar is, wys op etlike simptome van moontlike kanker by kinders. Skielike veranderings in die oog, byvoorbeeld wit kolle of skeelheid, swelsels in die buik of bekken, kop of nek, ledemate en kliere, en onverklaarbare koors en pyne in die beendere en gewrigte of rug, asook frakture wat maklik plaasvind, moet gevaarligte laat flikker.
Die CHOC Huis bied aan die jong pasiënte ’n veilige hawe waar hulle net kind kan wees. Foto verskaf
CHOC, wat op geen finansiële staatshulp kan steun nie, bied ’n gratis ondersteuningsdiens aan jong kankerpasiënte en hul naasbestaandes. Dit behels familieverblyf in die CHOC Huis in Bloemfontein, bystand met vervoer, asook emosionele ondersteuning deur maatskaplike werkers.
In September bied CHOC verskeie opleidingsgeleenthede aan in Bloemfontein. Verpleegpersoneel en vrywilligers word onderrig in die identifisering van vroeë waarskuwingstekens van kanker, en wat hulle te doen staan in sulke gevalle.
Naasbestaandes kan hier saam met hulle kinders kuier. Foto verskaf
Vir Van Zyl is die hantering van die jong kankerpasiënte ’n roeping. “Kinders is pretensieloos en ongelooflik dapper,” sê sy. “Hulle kan ongelukkig nie alleen teen kanker baklei nie. Hulle het ons as gemeenskap se ondersteuning nodig om die pad vir hulle makliker te maak.”
OFM Nuus/Elsabé de Jager