Central SA
Matrieks by Hoërskool Kalahari van vandalisme beskuldig─── HEIDRÈ MALGAS 12:33 Thu, 27 Jul 2023
‘n Groep matrieks van die Hoërskool Kalahari in Kuruman in die Noord-Kaap se “40 Days” het Sondagaand handuit geruk.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement, sê die departement is ontsteld en teleurgesteld oor die swak gedrag van die matrieks.
“Hierdie gedrag en die vandalisering van staatseiendom is heeltemal onaanvaarbaar. So ’n vertoning van boewery is nie iets wat ons verwag van leerders wat hulle voorberei vir hul belangrikste en finale eksamen nie,” sê hy.
Video’s en foto’s wys die skade wat van die matrieks by die Hoërskool Kalahari aangerig het.
Hy sê die departement veroordeel dit ten sterkste en doen ’n beroep op die distrikskantoor om hierdie saak onmiddellik te ondersoek.
“Ons sal nie duld dat sekere leerders ander se onderrig ontwrig nie.”
Die departement dring aan op ’n omvattende verslag hieroor van die Hoërskool Kalahari en die distrikskantoor.