Central SA
Bethlehem se brandweerstasie is uiters verwaarloos─── 12:17 Mon, 08 May 2023
Die DA het onlangs die brandweerstasie in Bethlehem in die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit besoek nadat verskeie klagtes daaroor ontvang is weens noodoproepe wat nie beantwoord word nie.
Die telefoonnommers van die brandweer werk nie meer nie en die hele brandweerstasie is in chaos en baie verwaarloos, het die DA in ’n verklaring gesê.
Die gebou is in ’n swak toestand en die lekkende dak wat lek veroorsaak dat die mure se verf afdop. Daar is ook kommer dat dié platdak enige oomblik in duie kan stort. Die personeel moet in die donker werk omdat daar nie voorsiening vir beurtkrag gemaak is nie.
“Dit is kommerwekkend dat daar net een brandweerwa by die stasie is en dat dit nie in ’n behoorlike werkende toestand is nie,” sê die DA.
“Ons het herhaaldelik die owerhede gevra dat hulle die brandweerstasie besoek, maar het nog geen datum vir hul besoek ontvang nie. Hierdie gebrek aan optrede deur die owerhede is onaanvaarbaar en hou ’n gevaar vir die gemeenskap in.”
As ’n toets is die DA-beheerde Midvaal op verskillende tye van die dag en nag gebel en die foon het nooit meer as twee keer gelui voordat dit beantwoord is nie.
Mediaverklaring/Estie Senekal – DA-raadslid, Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit
Die brandweerstasie in Bethlehem is erg verwaarloos. FOTO'S: Verskaf