Central SA
'Kubuskoning' se Garies-huisprojek voorlopig gelikwideer─── 07:25 Thu, 23 Mar 2023
Adriaan Nieuwoudt, die man wat voorheen as Suid-Afrika se kubuskoning bekend gestaan het, se Eureka-behuisingsprojek is Woensdag 22 Maart 2023 in die Wes-Kaapse Hooggeregshof onder voorlopige likwidasie geplaas.
Die applikant in die saak is Carolina Johanna Lombard, ’n inwoner van die Eureka-dorpie net buite Garies in die Noord-Kaap. Sy het die aansoek gebring teen Eureka Bpk, die maatskappy wat Nieuwoudt hiervoor gestig het.
Nieuwoudt is die breinkind van die sogenaamde Eureka-beweging. Die doel hiervan was die vestiging van ’n eksklusiewe dorpie vir blankes naby Garies.
Volgens hom sou dit ’n veilige hawe bied aan blankes wat onder wrede aanvalle en uitsluiting vanaf regeringskant gebuk gaan. Nieuwoudt se plaas Dikdoorn, in die Garies-distrik, huisves hierdie behuisingsprojek.
Die dorpie is egter die afgelope paar jaar pal in die nuus oor bewerings dat dit nie aan munisipale regulasies en die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde voldoen nie. Hiervoor het die Kamiesberg-munisipaliteit op Garies hulle hof toe gesleep.
As die munisipaliteit ’n bevel kry om huise te sloop sal baie inwoners miljoene rande verloor.
Boonop is daar ook bewerings van bedrog van R80 miljoen teen Nieuwoudt oor die hantering van aandelesertifikate wat inwoners koop om in die dorpie te kan bly.
In sy uitspraak Woensdag het regter J. Gamble spesifiek verwys na die omstrede verhandelkamer, waarin inwoners se beleggings glo geplaas word, as synde onwettig aangesien dit as 'n ongelisensieerde aandelebeurs funksioneer.
Eureka Bpk kan op 17 Mei aanvoer waarom 'n finale likwidasiebevel nie toegestaan moet word nie.
Advokaat Hendrik van Staden het namens die applikant opgetree. Rufus Beukes, munisipale bestuurder van die Garies-munisipaliteit, het gesê dat hy eers later kommentaar sal lewer.
OFM-nuus/Isaac Cloete