On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

#HeidedalCrime: Laerskoolseun dood ná mesaanval

───   15:29 Mon, 07 Oct 2019

#HeidedalCrime: Laerskoolseun dood ná mesaanval  | News Article

Die Heidedal-gemeenskap in Bloemfontein, Vrystaat, het die naweek hulle kommer op sosiale media uitgespreek oor die onlangse dood van ‘n laerskoolseun in die gebied.


Die seun is na bewering Saterdagmiddag met ‘n mes doodgesteek nadat hy winkel toe was. Die verdagte, wat glo in sy twintigs is, het homself glo ná die insident aan die polisie oorhandig.

Gregory Werner, stigter van die Facebook-blad “Heidedal: Enough is Enough” en ‘n gemeenskapsaktivis teen dwelms, het aan OFM-nuus gesê hy glo die insident is ‘n wekroep vir die Heidedal-gemeenskap omdat die slagoffer so jonk is. “Dit is 'n simptoom van iets wat drasties verkeerd gaan in ons gemeenskap,” verduidelik hy. Werner meen die geweld onder die jong mense in die gebied is kommerwekkend en raai gemeenskapsleiers aan om met oplossings vorendag te kom wat die jeug in die gemeenskap besig kan hou. Werner het sokker as een van die voorbeelde genoem.

Verder het Maureen Ridgard, skoolhoof van Credence Primêre Skool waar die leerder in graad 6 was, gesê die nuus was vir die skool ‘n groot skok. Sy sê dit is die eerste keer in die skool se geskiedenis dat hulle ‘n leerder só aan die dood moes afstaan. Ridgard het verduidelik in ‘n poging om dissipline toe te pas en om ‘n kultuur van veiligheid by die skool te verseker, pas die skool streng reëls toe en maak hulle van plaaslike polisie gebruik om leerders oor sekere gevare in te lig. Sy het ook bygevoeg dat die skool Woensdag ‘n gedenkdiens vir die oorledene sal hou.

Intussen het Logan Kruger, ‘n inwoner van die gebied, aan OFM-nuus gesê dat sy sowat twee maande gelede by die einste seun se ma se begrafnis uitgehelp het. Sy sal nou weer help met die begrafnisreëlings van die kind. Kruger het vyf jaar gelede deur haar nie-winsgewende organisasie, Logan K Foundation, arme families in die gemeenskap begin help deur kos te skenk wat sy as donasies van inwoners ontvang. “Die doel van die stigting is om weer ‘n kultuur te skep waar inwoners mekaar help,” sê Kruger.

Die leerder word eerskomende Vrydag begrawe. Die oorsaak van die mesdood is nog onbekend in dié stadium.

 

OFM-nuus/Elsabé Richard

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.