On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor and Margaret
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agri Hour

#Covid19-regeringshulp: Wat van kommersiële boere, vra TLU SA?

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 07:50 Wed, 08 Apr 2020

#Covid19-regeringshulp: Wat van kommersiële boere, vra TLU SA? | News Article

TLU SA is diep bekommerd oor die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se Covid-19-ingryping om R1,2 miljard se hulp aan hoofsaaklik kleinboere te verleen.


Dié organisasie se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, sê dit wil voorkom of ideologie en politiek nog seëvier in die krisistyd. Van Zyl meen miljoene rande se hulp word aan kleinboere verskaf, terwyl kommersiële boere aan die agterspeen suig en moet staatmaak op lenings by die Landbank of kommersiële banke.  Dit terwyl die kommersiële bedryf hoofsaaklik verantwoordelik is vir die grootste gedeelte van Suid-Afrika se kosproduksie. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Van Zyl gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê aan die een kant moedig die regering samewerking aan en dat daar hande gevat moet word, maar aan die ander kant word daar slegs hulp verleen aan diegene wat slegs 1,9% van die land se kos produseer. 

TLU SA het nie 'n probleem daarmee as 'n reddingsboei uitgegooi word aan dié boere in die regering se poging om die land se ekonomie 'n hulpstoot te gee nie.  Daarmee saam is dit ook belangrik om mense se lewens te red.  Dit laat die belangrike vraag ontstaan oor die herstelpad ná die Covid-19-pandemie, sê hy. 

Dit is duidelik dat 68% van die land se inwoners verstedelik het en hulle is absoluut afhanklik van die kommersiële bedryf vir kos, terwyl die regering nie enigsins na dié bedryf uitreik nie.  Daar is kommersiële boere wat in skuld gedompel is weens verskeie omstandighede soos onder meer die droogte.  Dié boere is ook onder druk, maar Didiza het slegs melding gemaak van plaaswerkers wat "die ruggraat van kosvoorsiening" in die land is.  

Van Zyl sê dit is geensins die situasie nie.  "Ons beleef op die oomblik dat die kommersiële bedryf, dit sluit swart en wit boere in, in hierdie tyd nie die nodige ondersteuning vanaf die regering kry nie." Voedselsekerheid is van kardinale belang, want sodra mense sonder kos is, pas hulle hul eie reëls toe wat gepaard gaan met geweldige protes en anargie." Ons is nie aldag seker of die regering se fokus korrek is nie." 

Daar is dankbaarheid vir alle hulp, maar daar moet 'n balans wees, want dit is nog 'n opdraande stryd wat voorlê vir die ekonomie om weer sy kop op te tel ná Covid-19.  

Dit was Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. 


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.