On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agri Hour

Vermeende veediewe agter tralies danksy boere se flinke spanwerk

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 07:40 Wed, 08 Apr 2020

Vermeende veediewe agter tralies danksy boere se flinke spanwerk | News Article
FOTO: Verskaf

'n Eskom-werknemer en twee van sy makkers is danksy boere van die Prieska en Britstown gebied, in die Noord-Kaap, se flinke optrede, in samewerking met die polisie, nou agter tralies, nadat hulle glo skape wou steel.


Die vermeende veediewe is Vrydagmiddag aangekeer nadat 'n plaaswerker hulle op heterdaad op die plaas Schilderspan betrap het. Piet Vos, ondervoorsitter van Agri Noord-Kaap se Prieska-plaasveiligheidsektor-1, sê dié mans is Vrydagmiddag op sy buurman, Donald Jackson, se plaas met 'n Eskom-bakkie gewaar. Hulle was glo besig om skape te vang en in die bakkie te laai. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Jackson se plaaswerker, Jan, het sy werkgewer onmiddellik in kennis gestel, waarna die booswigte in die bakkie op die vlug geslaan het. Die plaaslike veiligheidsplan is in werking gestel en die polisie is ontbied. 

Boere het vinnig gereageer en die  booswigte agterna gesit, sê Vos.  Dit het behoorlik gegons op WhatsApp-groepe in die gebiede. Hy sê die diewe het  al langs die Eskom-kraglyn in dié gebied gejaag. Hulle het hekke gesluit, wat 'n groep boere, wat op die radio ontbied is om te kom help, verhoed het om hulle verder agterna te sit.

Hy sê die Eskom-bakkie is later wel op die Carnavon-pad deur boere voorgekeer. Polisiewoordvoerder, Dimakatso Mooi, het aan OFM-nuus bevestig dat drie verdagtes aangekeer is en op 'n aanklag van veediefstal tereg staan.

Vos sê 'n vasgebinde ooi is teruggevind, terwyl 'n skaap nog vermis word.  

Eskom se algemene bestuurder in die Noord-Kaap, Klaas Gouws, het aan OFM-nuus gesê dit was vir hom teleurstellend om te verneem dat een van die verdagtes na bewering 'n Eskom-werknemer is. Hy sê die gereg moet nou sy verloop neem en Eskom sal sy volle samewerking in dié verband gee. Dit is onaanvaarbaar en die korrekte prosedures rakende die voorval sal gevolg word.  

Gouws sê verdagte optrede kan by Eskom by 0800-11-27-22 aangemeld word.

Dit was Piet Vos,  ondervoorsitter van Agri Noord-Kaap se Prieska-plaasveiligheidsektor-1, slegs op die Agri-Uur.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.