On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agri Hour

VL verwelkom strenger noodmaatreëls, maar waarsku teen misdaad

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 09:23 Wed, 25 Mar 2020

VL verwelkom strenger noodmaatreëls, maar waarsku teen misdaad | News Article

Vrystaat Landbou (VL) verwelkom die regering se strenger noodmaatreëls van 'n nasionale inperking oor 21 dae om te verhoed dat die koronavirus in Suid-Afrika nie buite beheer raak nie.


Tommie Esterhuyse, visepresident van VL, sê dié maatreëls is tydig ingestel en dit is goed dat landbou-aktiwiteite en bydrywighede voort kan gaan, omdat landbou 'n noodsaaklike diens is. Die beperking op beweging van 'n honderd mense en meer geld steeds en die inperking wat Donderdag om middernag in werking tree asook maatreëls in die landboubedryf tydens die tydperk is gister op 'n telekonferensie deur betrokkenes van VL bespreek. Esterhuyse sê die inligting sal spoedig aan lede van dié organisasie oorgedra word. Hy sê boere en hul plaaswerkers moet juis nou ten tyde van die inperking op hul hoede wees, en nie hul veiligheid op plase en kleinhoewes verslap nie. Dit kom nadat Wilna Swanepoel, 66,  wat alleen boer in die Bothaville-distrik, Sondagaand wreed aangeval is. Daarmee saam is Dries van der Walt, binne die bestek van 15 uur, Maandagoogend op sy plaas in die Tweeling-distrik aangeval. 

OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Esterhuyse gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Van der Walt is kort voor 06:00, nadat hy sy diere gevoer het, deur 'n aanvaller met 'n vuurwapen gedreig. Nog drie booswigte het by hul makker aangesluit. Vuurwapens is geroof. Van der Walt is met die vuis geslaan, en is nie ernstig beseer nie, terwyl Swanepoel herhaaldelik met messe gewond is.  Esterhuyse sê sover bekend is niemand weens Van der Walt se aanval in hegtenis geneem nie, sy gesteelde bakkie is egter later verlate deur die polisie teruggevind. 

Volgens Esterhuyse is Swanepoel, steeds in die waakeenheid in 'n hospitaal in Klerksdop.  Sy is in 'n kritieke, maar stabiele toestand, nadat sy na bewering nege meswonde opgedoen het. 

Hy sê daar was vroeër vandeesmaand twee aanvalle op plase onderskeidelik by Verkykerskop en Marquard in die Vrystaat, waar twee produsente aangeval is. Saam met die mees onlangse twee aanvalle is dit egter kommerwekkend dat drie vroulike produsente geteiken is, terwyl slegs een produsent 'n man was. 

Esterhuyse sê daar moet juis nou gefokus word op veiligheid in landelike gebiede, want 'n toename in aanvalle word verwag, veral met die koronavirus wat 'n stewige greep op Suid-Afrika het. 

Esterhuys meen  aanvalle op vroue op plase en kleinhoewes toon daar is min respek  onder booswigte vir die landboubedryf. Dit moet aangespreek word. Sy grootste bekommernis in die stadium is die weermag wat betrokke is by beheermaatreëls in terme van die nasionale inperking en die polisie wat ook nou 'n bykomende rol het om te speel ten opsigte van dié maatreëls. 

"Ek is bekommerd dat dit baie van hul aandag gaan verg en dat booswigte die situasie gaan uitbuit." Hy verwys nie slegs na aanvalle op plase en kleinhoewes nie, maar veiligheid moet ook opgeskerp word om eiendomsverwante misdade en veediefstal te voorkom. 


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.