On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

agri fokus

Kan verminderde kosvermorsing druk op hulpbronne verlig?

───   10:09 Wed, 07 Jun 2017

Kan verminderde kosvermorsing druk op hulpbronne verlig? | News Article

Daar is ‘n verskil tussen voedselverliese en kosvermorsing. Voedselverliese dui op die voedsel wat die plaashek verlaat en nie die verbruiker bereik nie.

Eersgenoemde dui op verliese tydens die oes asook verwerking – tot soveel as 40% gaan so in ontwikkelende lande verlore. 

Dieselfde persentasie voedsel gaan weer in ontwikkelde lande verlore omdat dit ongeëet in asblikke van huishoudings, eetplekke en die handel beland. Tot een derde van alle voedsel gaan so verlore – ‘n geraamde 1.3 biljoen eetbare porsies of meer as die helfte van die wêreld se graan produksie.  

Vir Europa en Noord-Amerika word dié verliese geraam op 95 tot 116 kg per kapita en in Sub-Sahara Afrika, Suid- en Suid-Oos Asië beland 6 tot 11 kg per kapita ongeëet in asblikke.  Vermorsing in die VSA alleen beloop $218 miljard of 1.3% van die BBP en ‘n geraamde 1.4 biljoen hektaar se kosproduksie is wêreldwyd in gedrang. Dit is meer as die landoppervlakte van China. Anders gestel beteken dit dat 30% van die landoppervlakte wat tans vir kosproduksie aangewend word, se produkte nooit die verbruiker bereik nie. ‘n Geraamde 2 biljoen ondervoede mense kan met verliese van dié omvang gevoed word, maar nog belangriker is dat vir elke 20%-besparing aan verliese, ‘n bykomende 870 miljoen honger mense kos gegee kan word. As verliese in Latyns Amerika en Afrika bekamp kan word, kan ‘n bykomende 600 miljoen mense kos kry, aldus die FAO. 

Daar is dus baie werk om voor Afrika se eie deur te begin vee, maar so ‘n strewe kom ook met ‘n waarskuwing ten opsigte van perspektief. Die kosverliese wat verminder word, moet altyd meer werd wees as die koste om dit te verminder en hierin faal baie goed bedoelende hulporganisasies dalk. Op 'n meer praktiese vlak beteken enige vermorsing op sub-optimaliteit. Volgens die FAO gaan 21% van alle varswater verlore en 19% van alle kunsmis word vermors as gevolg van óf voedselverliese en/of voedselvermorsing.  

Produkte wat die plaashek verlaat, word omvorm tot verbruikbare kommoditeite deur middel van ‘n legio van dienste en produkte wat in dié proses aangewend word. 

Die sogenaamde bemarkingsmarge verduidelik die verskil tussen plaashekprys en verbruikersprys en namate verbruikers se behoefte verander, word meer en meer waarde in die waardeketting toegevoeg. Die verskil bestaan uit koste en wins, want enige verwerking is geregtig op regmatige vergoeding. In die meeste gevalle is boere prysnemers en is die vraag na sy produkte ‘n afgeleide.  Die Nasionale Bemarkingsraad publiseer gereeld verslae oor die verloop van die bemarkingsmarge en die produsente-aandeel in die verbruikersrand. Gewoonlik daal laasgenoemde namate die sofistikasie van die verbruik toeneem. 

Meer toegevoegde waarde word verkoop in die finale vraag na die produk as die plaas-ekwivalent van die betrokke produk. Die jongste ontledings van dié Bemarkingsraad dui op die impak van die huidige veranderings op plaasvlak. Wat graad A2/A3-lam aanbetref, het die plaaswaarde toegeneem tot meer as 82% in April vanjaar ten spyte van die 4.5% daling van Februarie tot April. 

Die bemarkingsmarge was in April vanjaar gemiddeld R13.31 per kg of bykans 29% meer as in Februarie 2017. Dié tendens dui op die mate wat die handel die styging in plaashekpryse absorbeer het, want die mark sal nie die huidige plaashekpryse kan bekostig nie, sou normale marges in die handel geld. 

In die geval van graad A2/A3-beesvleis, was produsente slegter daaraan toe as in die geval van lam, want die plaaswaarde van wat die verbruiker betaal, is in April vanjaar geraam op net minder as R60, wat beteken dat die marge van Februarie tot April 2017 met amper 3% tot R30.78 afgeneem het. 

Die plaaswaarde van die finale vraag na die produk het egter met 4.3% toegeneem oor dieselfde tydperk.  

Wat die verbruik van mielies aanbetref, is daar baie goeie nuus.  Die bemarkingsmarge van 5 kg Super-mieliemeel het van R4141 per ton in Februarie afgeneem tot net meer as R3000 per ton.  Die plaaswaarde was net minder as 55% in Februarie, maar het toegeneem tot amper 65% in April, met geringe toename in die marge vir die jaar tot April 2017.  Die skerp daling in die bemarkingsmarge is die gevolg van dalende plaashekpryse, maar die persentasiestyging in die plaaswaarde dui daarop dat die handel self die impak van dalende plaashekpryse absorbeer.  Dit kan produsente help om die impak van die rekordoes op hande op plaaspryse te versag, maar dit sal bepaald nie volhoubaar wees uit die oogpunt van die verwerkers nie. 

Alhoewel pryse belangrik is by keuse van verbruik, is ontsag vir die produk in terme van oorsprong en koste binne die hele waardeketting noodsaaklik. Verbruikers sal tot ‘n groter mate moet pa staan om nie te mors met kos nie en behoort daarop aan te dring dat dieselfde respek nodig is in die prosesse betrokke van plaashek tot winkelrak.


Verskaf deur dr. Kobus Laubscher, 'n onafhanklike landbou-ekonoom en -strateeg.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.