On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Minister sê veilings kan nou voortgaan

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:07 Mon, 17 Feb 2020

Landbounuus-podcast: Minister sê veilings kan nou voortgaan | News Article

Die tydelike nasionale verbod op die samekoms van spleethoewige diere, van twee of meer bronne, is gelig.


Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het dié aankondiging op ‘n mediakonferensie gedoen. Die verbod, wat veilings en skougeleenthede van diere verbied het, is ingestel ná die uitbreking van bek-en-klouseer in die Molemole-gebied in Limpopo laat verlede jaar. Didiza het gesê veilings kan nou voortgaan, maar alle lewendehawe-agente moet by die Landbouprodukte-agenteraad, oftewel Apac, geregistreer wees.

Die langverwagte Landbou-ontwikkelingsagentskap (AGDA) word Dinsdag tydens die openingsgeleentheid van die Africa Agri Tech-konferensie en expo, oftewel AAT, in Pretoria bekendgestel. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sal tydens dié bekendstelling praat. Leona Archary, besigheidseenheid bestuurder vir landbou by Bigen Africa, en 'n lid van die taakspan wat gemoeid is met die ontwikkeling van dié agentskap, sê dié agentskap is deel van die openbare private groei-inisiatief (PPGI) wat deur die vredesonderhandelaar en oudminister, Roelf Meyer, gelei word. Sy sê pres. Cyril Ramaphosa het dié inisiatief geïnspireer en dit het ten doel om strategiese beplanning tussen die regering en die private sektor in lyn te bring met die oog op die verbetering van ekonomiese groei. Die AAT-konferensie by die Sun Arena en Maslow Hotel in Menlyn  duur tot Donderdag. Onderwerpe wat onder die loep kom, wissel van die plaaslike en internasionale landbou-ekonomie en toegang tot kapitaal tot versagtende droogtetoestande. Die konferensie is daagliks van 08:00 tot 13:00 en weer om 14:00 en 17:00, terwyl uitstallings daagliks vanaf 14:00 tot 17:00 besoek kan word. Vir meer inligting besoek media@africa-agri.co.za.

EN

Grobank, wat voorheen bekendgestaan het as die Suid-Afrikaanse Bank van Athene, skroom nie weg van tegnologiese ontwikkeling nie. Bennie van Rooy, uitvoerende hoof van Grobank, wat die jongste toevoeging is tot bankdiense aan die landboubedryf, sê dié bank wat nou in die proses is om in 'n kommersiële landboubank omskep te word, is betrokke by tegnologiese gesprekke in die bankwese oor die wêreld heen. Juis daarom is Grobank 'n hoofborg van die Africa Agri Tech, oftwel AAT-konferensie wat Dinsdag in Pretoria begin. Dié konferensie, waarop 'n ekspo ook aangebied word, fokus op die impak van die nuutste vooruitgang op die gebied van wetenskap en tegnologie in die bedryf. Van Rooy sê dit bied 'n gulde geleentheid vir Grobank om homself bekend te stel. Van Rooy sê Grobank, wat gespesialiseerde bankdienste aan die landbougemeenskap lewer, glo daar is beweegruimte vir finansierders al is die Suid-Afrikaanse landbouskuld op historiese hoë vlakke met die prys van grond wat sywaarts beweeg. Hy sê daar moet aanvaar word dat die landbousektor 'n belangrike rol speel om voedselsekuriteit te bevorder, plaaslik en in Afrika, en daarom moet die aantal kommersiële boere in Suid-Afrika vermeerder word.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.