On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: SA gerat vir somer plantseisoen

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 12:35 Wed, 18 Sep 2019

Landbounuus-podcast: SA gerat vir somer plantseisoen | News Article

Die 2019/20-plantseisoen vir somergrane is om die draai en landerye in sekere dele van die oostelike produksiegebiede is gereed daarvoor.


Vooruitsigte lyk ook belowend met onlangse reën in dié gebiede. 'n Landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, meen daarmee saam dui die nuutste vooruitsigte van weerontleders aan dat bo-normale reënval van nou tot die einde van Desember kan voorkom. Hy meen Suid-Afrika behoort in terme van somergrane 'n netto-uitvoerder te bly. Minder goeie nuus is egter aanduidings dat droër en warmer weer die afgelope paar weke daartoe kan bydra dat die land nie dié seisoen die grootste koringgraanoes in 'n dekade weens ongunstige weerstoestande in die Wes-Kaap gaan lewer nie.

Agri Noord-Kaap gaan volgehoue druk op die Noord-Kaapse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta), asook die provinsiale departement van landbou plaas om droogteramphulp aan boere te verleen. Dit kom nadat Cogta en die departement koppe gestamp het oor 'n onvoldoende verslag van die departement met betrekking tot R127 miljoen se droogteramphulp, wat verlede jaar in dié provinsie verleen is. Nicol Jansen sê daarmee saam sloer Cogta ook met die proses wat gevolg moet word nadat die Noord-Kaap in geheel deur die regering as 'n rampgebied verklaar is. Hy sê intussen oorleef boere van skenkings van veevoer en donasies deur weldoeners van oor die land heen.

EN

Intussen het die organisasie Boere Droogtehulp Suid-Afrika bevestig dat 18 vragmotors en 11 bakkies met sleepwaens vanoggend uit Rustenburg in Noordwes met veevoervragte vir boere in die droogtegeteisterde Kleinbegin in die Noord-Kaap vertrek het. Die stigter en uitvoerende hoof van dié droogtehulporganisasie, Chris van Beljon, sê die veevoer ter waarde van R1,4 miljoen is deur 'n weldoener in Rustenburg geskenk, wat gras langs paaie baal. Boere in Noordwes en die Vrystaat het ook bale mieliereste beskikbaar gestel. Volgens Beljon word hulp van regoor die land verleen aan gemeenskappe in dié gebiede wat gebuk gaan onder die droogte, maar die situasie in die Kleinbegin-gebied is kritiek.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.