On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Central SA

NK-munisipaliteit pak sportveldprojek aan in droogte

───   11:26 Fri, 25 Oct 2019

NK-munisipaliteit pak sportveldprojek aan in droogte | News Article
PHOTO: Supplied

Te midde van die erge droogte wat die Noord-Kaap huidiglik in die gesig staar, is die Kamiesberg Munisipaliteit besig om ‘n multimiljoenrandse sportveldprojek aan te pak nadat talle inwoners geraak is deur die waterkrisis.


Die woordvoerder vir Kamiesberg Munisipaliteit, Petro Willems, het aan OFM-nuus verduidelik dat beurtwater tans toegepas word en dat die munisipaliteit ten spyte van die uitdagings, onverpoos werk om te verseker dat elke huishouding genoegsame drinkwater ontvang.

Hy sê die munisipaliteit ry drinkwater aan na dorpe waar die watertoevoer swak is en verseker dat die munisipaliteit nooit versuim het om water aan inwoners te voorsien nie.

Die DA in die area is teleurgesteld oor dié besluit van die munisipaliteit om voort te gaan met die uitvoering van die projek. Veronica van Dyk, Lid van Parlement van Kamiesberg, is van mening dat te midde van die droogte in die area, kon die munisipaliteit eerder die geld gebruik om oplossings vir die waterkrises te vind.

Van Dyk sê, alhoewel dit ‘n goeie inisiatief is om jong kinders van die straat af te hou en werk te verskaf aan die gemeenskap, help dit nie die huidige droogtesituasie in nie.

Sy sê van die huishoudings is vir tot nege dae sonder water. “Hierdie projek het die munisipaliteit al in Junie vanjaar geadverteer, so hulle was heeltemal bewus van hierdie droogte wat al die afgelope jare heers en dit is die beswaar wat die DA het,” sê sy.

Van Dyk het ook verduidelik dat die DA graag ontwikkeling in die gemeenskappe ondersteun, maar sê die omstandighede waarin die munisipalitiet gekies het om hierdie projek aan te pak, is ondeurdag.

Willems sê die munisipaliteit maak van boorgatwater gebruik om die sportveld in stand te hou. Hy sê dié water is nie geskik vir menslike gebruik nie. Hy het ook bygevoeg dat dit voorheen onder die munisipaliteit se aandag gekom het dat die kontrakteur rioolwater gebruik het om die sportveld te besproei, maar dat die munisipaliteit dit onmiddellik stopgesit het en daarna aan die gemeenskap verskoning gevra het.

Willems sê die munisipaliteit maak nou gebruik van rioolwater wat uit herwinbare septiese tenke in Kharkams onttrek word, wat nie 'n gesondheidsrisiko vir inwoners inhou nie.

Van Dyk is van mening dat die party verstaan dat geld uiteengesit word vir sportveldprojekte wat gebruik moet word vir sportontwikkeling, maar voer aan dat daar gekyk moes word na ander alternatiewe om water te bespaar. Sy noem sintetiese gras en netbalbane as voorbeelde.

 

OFM-nuus/Elsabé Richard

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.