On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

NWK gedenk 115de jaar as SA se oudste landboumaatskappy

───   ELZETTE BOUCHER 17:39 Fri, 03 May 2024

NWK gedenk 115de jaar as SA se oudste landboumaatskappy | News Article
NWK se hoofkantoor op Lichtenburg. Foto: OFM

“As ons ’n voorbeeld kan stel vir elkeen daar buite, sal daar verandering kom en sal ons ons platteland laat herleef.”

NWK vier Saterdag (4/5) sy 115de jaar in die landboubedryf. Hierdie instansie, vroeër bekend as die Noordwes Koöperasie, is vandag Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy. 

Dit is op 24 April 1909 gestig en op 4 Mei daardie jaar as De Lichtenburg Coöperatieve Landbouw Maatschappij geregistreer.

Ná die sluiting van die Vrede van Vereeniging in 1902 het produsente hulle in uiterste armoede bevind. Boere het besef die beste manier om produksie behoorlik aan te help is deur koöperatiewe optrede.

“Dit was baie moeilike jare gewees. Weens die verskroeide aarde-beleid is plase afgebrand. Sowat 150 boere het bymekaar gekom waarvan 112 geteken het dat korporasie gestig moet word. Genl. Koos de la Rey was die eerste een wat sy handtekening op papier gesit het,” vertel Heinrich Krüger, voorsitter van NWK se direksie.

Hy noem verder dat ondanks die uitdagings van die droogte, die Groot Depressie van die dertigerjare en die Tweede Wêreldoorlog in die veertigerjare, was NWK in die sestigerjare danksy tegnologie die voorloper met konvensionele graansilo’s.

“NWK het nog altyd by sy mense gestaan en sover ons kan het ons ons boere naby ons gehou. Instansies soos NWK kan nie bestaan as daar nie boere is nie.”

Theo Rabe, die uitvoerende hoof wat vanjaar ná bykans twee dekades se diens uittree, vertel dit was sy mikpunt om in sy loopbaan aan die hoof van ’n groot landboumaatskappy te staan.

“Ek het altyd gedink dit is ’n groot eer om so ’n posisie te beklee, maar dis ook ’n groot verantwoordelikheid. Jy moet die leiding gee. As iets gebeur is 2 000 mense werkloos. Jy’t aandeelhouers, boere in die gemeenskap. Daai aanstelling was my eerste hoogtepunt. Dit het ook ’n nuwe era in my lewe gebring.”

Rabe sê die tweede hoogtepunt was die nuwe visie wat hy saam met die bestuurspan kon skep.

“Jy moet ’n prentjie skep vir al jou mense van waarnatoe jy wil gaan. Dit het ’n reis begin wat baie van NWK se suksesse beteken het. Ons het roadshows gehad waartydens elke bedryfspunt besoek is om seker te maak almal deel in die nuwe visie.”  

OFM se Yolanda Maartens staan voor NWK se hoofkantoor met die direksievoorsitter en hoof uitvoerende beampte.

OFM het Vrydag by NWK op Lichtenburg uitgesaai. Heinrich Krüger, Yolanda Maartens van OFM, en Theo Rabe. Foto: OFM

NWK speel nie net ’n beduidende rol as werkgewer op veral Lichtenburg waar die maatskappy gesetel is nie, maar ondersteun die gemeenskap met ’n verskeidenheid van infrastruktuur, diensverskaffing en opheffingsprojekte.

“Ek self is ’n plattelander en het al vroeg in my lewe besluit ek wil op die platteland woon. Die verval van die platteland is hartverskeurend. Omdat ons kleiner gemeenskappe is, sien jy die armoede en die behoefte baie nader aan jou as diegene in ’n stedelike gebied. 

“Vir ons as maatskappy is dit ons verantwoordelikheid om betrokke te raak. As ons ’n voorbeeld kan stel vir elkeen daar buite, sal daar verandering kom en sal ons ons platteland laat herleef.”

OFM Agri mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.