On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Arts

Mona Lisa kry dalk ’n kamer van haar eie

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 08:59 Sun, 28 Apr 2024

Mona Lisa kry dalk ’n kamer van haar eie | News Article
’n Herinterpretasie van die Mona Lisa. Foto: Bored Panda

Digitale aanpassings wys hoe diep die Mona Lisa in ons kollektiewe bewussyn ingeprent is.

Die Mona Lisa, Leonardo da Vinci se wêreldbekende skildery, kry dalk binnekort ’n kamer van haar eie in die Louvre-museum in Parys.

Louvre se president, Laurence des Cars, het voorgestel dat sy na ’n aparte ruimte verskuif word om die ervaring vir duisende daaglikse besoekers te verbeter.

‘Wat is meer belangrik, kuns of die reg op gesonde en volhoubare kos?’

Op 28 Januarie 2024 het twee omgewingsaktiviste sop na Mona Lisa gegooi. Hul betoging was gesentreer rondom voorspraak vir "gesonde en volhoubare kos".

Besoekers was geskok deur die twee aktiviste se gedrag. Die Mona Lisa, wat deur koeëlvaste glas beskerm word, blyk onbeskadig te wees. Die betogers was deel van ’n omgewingsaktivistegroep genaamd Riposte Alimentaire (Voedselreaksie). Hulle het gevra: “Wat is meer belangrik, kuns of die reg op gesonde en volhoubare kos?” 



Die Louvre-personeel het vinnig swart lapskerms om die skildery opgerig. Die polisie in Parys het twee mense in hegtenis geneem ná die voorval. Die museum het bevestig dat die Mona Lisa onbeskadig gebly het danksy haar beskermende glasomhulsel.

Hierdie voorval is deel van ’n breër neiging van soortgelyke aanvalle op kunswerke, alles daarop gemik om die aandag op omgewings- en maatskaplike kwessies te vestig.

In nog ’n eienaardige voorval in Mei 2022 het ’n man die Mona Lisa se beroemde glimlag vlugtig verbloem deur haar met roomkoek te smeer. Dié daad was glo weens ’n betoging teen aardverhitting. 



Wetenskaplikes het onlangs X-strale gebruik om die chemiese struktuur van ’n uiters klein deeltjie van die skildery te ondersoek. Die navorsers in Frankryk en Brittanje het ontdek dat Da Vinci ’n spesiale, nuwe chemiese mengsel in sy verf gebruik het. Die vrou met die enigmatiese glimlag gaan voort om geheime te verklap, selfs 520 jaar later.

Die Mona Lisa is ook in die digitale era verwelkom met digitale kunstenaars se onverwagse, verbeeldingryke weergawes.

Die internet het byvoorbeeld vroeër in April uiteenlopend gereageer op Microsoft se kunsmatige intelligensie-gegenereerde video van Mona Lisa waar sy ’n skryfstuk deur die aktrise Anne Hathaway kletsrym.

(Waarskuwing: Video bevat kru taalgebuik.)


Dié polariserende video, wat uiteenlopende reaksies aanlyn ontlok het, is een van die truuks van Microsoft se nuwe KI-tegnologie, genaamd VASA-1. Die tegnologie is in staat om lewensgetroue gesigte van virtuele karakters te genereer waar hulle praat, deur slegs gebruik te maak van ’n enkele foto en spraak-klankgreep. Die KI kan tekenprentkarakters, foto’s en skilderye laat sing of praat, soos blyk uit beeldmateriaal wat Microsoft vrygestel het as deel van navorsing wat op 16 April gepubliseer is.

Digitale weergawes wissel van speelse tot onheilspellende herinterpretasies, die moontlikhede is onbeperk. Hierdie digitale aanpassings wys hoe diep die Mona Lisa in ons kollektiewe bewussyn ingeprent is.

As dié Mona Lisa kon praat tydens die sopvoorval, was dit dalk ... “ ’sop vir jou!” Foto: Bored Panda

Die Mona Lisa se bekoring strek veel verder as Da Vinci se skilderdoek. Dit inspireer talle kunstenaars. Haar nalatenskap ontwikkel deur herinterpretasies in verskillende mediums en style – hetsy getroue replikas of gewaagde verbeeldingsvlugte, elkeen daarvan dra by tot die ryk tapisserie van Mona Lisa-geïnspireerde kuns.

Dus, of sy haar eie kamer kry of die onderwerp van wetenskaplike ondersoek word, die Mona Lisa gaan voort om die wêreld te bekoor.

OFM Nuus cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.