On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Glen-plaasmoord: Verdagtes verskyn in Bloemfonteinse hof – VIDEO

───   HEIDRÈ MALGAS 15:06 Mon, 13 May 2024

Glen-plaasmoord: Verdagtes verskyn in Bloemfonteinse hof – VIDEO | News Article
Motlalentoa Lucas Wolf (26) en Mohau William Lebeko (39) staan tereg op die moord van die bejaarde Glen-egpaar. Foto: Heidrè Malgas

Aktivis sê hy sal aanhou veg om ’n einde te bring aan plaasmoorde en hulle van die erns daarvan bewus te maak.

Twee verdagtes het Maandag (13/5) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn in verband met die grusame plaasmoord op ’n bejaarde egpaar naby Glen buite Bloemfontein. Die saak is uitgestel tot 20 Mei vir hul borgtogaansoek.

Mohau William Lebeko (39) en Motlalentoa Lucas Wolf (26), wat teregstaan op twee aanklagte van moord en twee van huisbraak, sal intussen in aanhouding bly.

Hulle het na bewering R220 000 – in twee eenderse betalings van R110 000 – van die egpaar se bankrekening na hul persoonlike bankrekeninge oorgeplaas. Christo (76) en Christa (73) Morrison se selfone en bankkaarte is in besit van die verdagtes gevind toe hulle Vrydag (10/5) by ’n gastehuis op Bloemhof in hegtenis geneem is.

Mohau William Lebeko (39) en Motlalentoa Lucas Wolf (26) sal in aanhouding bly. Foto: Heidrè Malgas

Die verdagtes was in besit van gesteelde items van die oorlede egpaar. 

Die Morrisons se liggame is Saterdag 4 Mei op die plaas Rietfontein by Glen, sowat 25 km buite Bloemfontein, ontdek nadat ’n buurman die polisie ontbied het omdat hulle nie op sy oproepe gereageer het nie.

’n Aktivis teen plaasmoorde, Petrus Sitho, sê hy is baie hartseer oor die voorval omdat die egpaar nie teruggebring kan word nie. Hy was in die hof met hul eerste verskyning. Daar is duidelike bewyse teen die verdagtes, so hy verstaan nie hoekom die saak soos al die ander lank gaan vat om af te handel nie.

Petrus Sitho, ’n aktivis teen plaasmoorde. Foto Heidrè Malgas

Hy sal veg, sê Sitho, en hy probeer in verbinding tree met Ronald Lamola, minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, en Bheki Cele, minister van Polisie, om ’n einde te bring aan plaasmoorde en hulle bewus te maak van die erns van plaasmoorde.

OFM Nuus het vroeër berig die Vrystaatse provinsiale eenheid vir ernstige geweldsmisdade het Vrydag (10/5) omstreeks 14:00 ’n wenk gekry oor waar die gesoekte verdagtes, wat van die grumoorde op die bejaarde Morrison-egpaar beskuldig word, hulle bevind, sê sers. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder.

WAARSKUWING: Die volgende video bevat kru taalgebruik.


“Die span wat saam met Welkom se taktiesereaksie-eenheid werk, het na ’n gastehuis op Bloemhof gegaan waarna die twee verdagtes, 39 en 26 jaar oud, om 23:00 in hegtenis geneem is. Die egpaar se selfone was in hul besit.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.