On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Onwettige Lesotho-burgers in Kimberley aangekeer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:17 Sun, 12 May 2024

Onwettige Lesotho-burgers in Kimberley aangekeer | News Article
Die polisie se stryd teen onwettige mynbedrywighede is versterk. Foto: SAPS/X

“Die kwessie van ongedokumenteerde persone, onwettige vuurwapens, dwelms en onwettige mynbou word aangespreek.”

’n Operasie deur die polisie in Kimberley het gelei tot die inhegtenisneming van 20 onwettige Lesotho-burgers.

Ten tye van die geïntegreerde multidissiplinêre operasie wat Vrydag (10/5) in Kimberley plaasgevind het, is ’n vroulike en 19 manlike ongedokumenteerde Lesotho-burgers tussen die ouderdomme van 24 en 49 in hegtenis geneem, sê sers. Molefi Shemane.

“Die multidissiplinêre span wat Operasie Vala Umgodi uitgevoer het, het die onwettige burgers by die Samaria informele nedersetting in hegtenis geneem toe hulle die kwessie van ongedokumenteerde persone, onwettige vuurwapens, dwelms en onwettige mynbou wou aanspreek.”

Shemane sê die drank waarop beslag gelê is by ongelisensieerde drankwinkels in die nedersetting, is dikwels die oorsaak van ernstige misdaad in die Samaria informele nedersetting. “Die operasie het gelei tot verskeie mense se inhegtenisneming, asook boetes wat uitgereik is aan twee Suid-Afrikaanse mans, onderskeidelik 33 en 40 jaar oud, vir die onwettige verkope van drank.”

Daar is ook beslag gelê op gereedskap en toerusting wat vermoedelik gebruik is in die uitvoer van onwettige mynaktiwiteite.

Lt.genl. Koliswa Otola, provinsiale polisiekommissaris, het die samewerking tussen Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit geloof om die stryd teen onwettige mynbedrywighede in die distrik te versterk.

In April 2021 het Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), gesê die onwettige toestroming is die afgelope dekade byna daagliks aan die gang en dat dit glad nie afgeneem het gedurende die inperkingstydperk weens Covid nie.

“Die onwettige betreding van Lesotho-burgers hou beslis verband met toenemende misdaadaktiwiteite in die gebied wat die veiligheid van plaasgemeenskappe en dorpe aangrensend aan die RSA/Lesotho-grens ernstig belemmer.”

Vrystaat Landbou spreek die hoop uit dat ’n permanente oplossing gevind sal word om hierdie en soortgelyke probleme op die grens aan te spreek.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.